top of page
Search

Hoe om organiese materiaal te gebruik vir beter gewasproduksie

Hoekom koolstof?

Wanneer koolstof tot grond toegevoeg word met die toediening van organiese materiaal, verhoog die vrugbaarheid van gronde. Die verhoging in vrugbaarheid veroorsaak dat die opname van kunsmis verbeter en minder kunsmis word benodig.

Dit is die rede hoekom slik riviergronde minder kunsmis as buite- en sandgronde benodig. Slik gronde bevat meer koolstof en humus.

Daar is vele maniere om koolstof in gronde te verhoog, maar watter metode is die beste?

Koolstof in gronde kan verhoog word deur die toevoeging van kompos, druiwedoppe, mis, kaf of ander vorms van organiese materiaal op die grond.

Kompos


Kompos is die vinnigste manier om gronde se vrugbaarheid te verhoog. Kompos van hoë kwaliteit moet vars ruik, met geen vrot reuke nie.

Vir effektiewe resultate in boorde en wingerde, is ongeveer 20 kubiek/ha se kompos op die bankies nodig. Dit moet bedek word met kaf/organiese materiaal. Indien die kompos nie bedek word nie, oksideer dit en droog uit; die kompos werk dus nie doeltreffend nie. 20 Kubiek/ha se kompos kos ongeveer R8000 plus nog R10 000/ha vir kaf bo-op die kompos. Die grootste nadeel van dié manier, is dat dit baie duur is om genoeg toe te dien.


Bankie met kompos op, bedek met kaf


Hoendermis


Hoendermis kan ook gebruik word.

Hoendermis bevat baie fosfate, en kan ‘n vinnige verhoging in fosfate gee. Te veel van 'n goeie ding is egter nie goed nie. Wanneer daar te veel fosfate in jou grond is, onderdruk die fosfate die opname van ander elemente soos yster. Hoendermis bevat ongeveer 0.5% fosfaat. Om genoeg organiese materiaal te kry, is 20 ton/ha se hoendermis nodig en gee die hoendermis ongeveer 100 kg/ha se fosfate. 40 Ton/ha se druiwe gebruik ongeveer 30 kg fosfaat per jaar. Hoendermis teen 20ton/ha op die bankies is genoeg fosfate vir 3 tot 10 jaar van wingerd, afhangende van produksie. Die fosfate is ook geneig om aan die kalsium te bind, so alles is nie plant-toeganklik nie.

Lees artikel hier wat in die Farmers Weekly was, oor die gevare van te veel fosfate.

Kaf


Kaf werk baie goed om die bankie te bedek. Die kaf verminder waterverdamping en verbeter grondlewe. Kaf vorm ook later humus wat die grond se vrugbaarheid verhoog. Om kaf toe te dien is egter baie duur. As ons kyk na kaf wat R15/baal kos, en jy gee een baal per vak, (en wingerd het gemiddeld 600 vakke per ha), kos die kaf alleen jou R9000. Die kaf moet dan nog aan/ingery word.

Druiwedoppe


Druiwedoppe kan ook gebruik word om koolstof toe te voeg tot gronde. Die grootste probleem met druiwedoppe is hul beskikbaarheid. Druiwedoppe is ongeveer 8% van wyndruiweproduksie. Op 1000 ton kry jy 80 ton se doppe, en @ 20 ton doppe/ha, het jy net genoeg vir 4 ha. Om 1000 ton se wyndruiwe te produseer, is gemiddeld 30 ha se wingerd nodig (in die Vredendal area).

Dekgewasse


Dekgewasse is die goedkoopste alternatief.

Dekgewasse word in die wingerd gegroei, en hulle materiaal word dieselfde as kaf gebruik.

Hoe gemaak as ek drup besproeiing het in lae reënvalarea?

In die Vredendal area, wat 'n lae reënvalarea is, kan die dekgewasse voor die winter op die bankie van die wingerd geplant word, en in die winter word dit met die druppers besproei. Die dekgewasse se wortels groei op die bankie, en wanneer die dekgewasse in die lente doodgemaak word, is daar koolstof in die grond dmv hul wortels, asook kaf materiaal bo-op die grond.


Die bankieplanter


Is die dekgewasse nie net nog ‘n onkruid nie, en hoekom los ek nie net die onkruid nie?

Onkruid verlaag die opbrengs van wingerd, wanneer dit met wingerd kompeteer. Meeste boere spuit ‘n onkruiddoder net na die winter en volg dit 2 tot 3 keer daarna op deur die seisoen.

Wingerd begin eers effektief water opneem (soos ons op die probes kan sien) na blom, wat in ons geval eers vanaf einde Oktober is. Onkruid wat na blom in wingerd teenwoordig is, veroorsaak kompetisie en verlaag prestasie van die wingerd.

Indien onkruid te laat in die seisoen gelos word, spuit dit baie moeilik dood. Daarom beheer ons onkruid vroeg in die seisoen.

Indien ons dekgewasse groei in die tydperk wanneer dit nie met wingerd kompeteer nie, kan ons organiese materiaal so goedkoop vervaardig. Ons spuit die dekgewasse dood in Oktober, voor dit met die wingerd kompeteer. Die dekgewasse spuit maklik dood, baie makliker as onkruid.



Ek het die dekgewasse op die bankie begin plant, om goedkoop materiaal te kry. Die grootste verandering in die eerste jaar wat ons waargeneem het, was egter die onkruidonderdrukking, en veral die onderdrukking van Vaalskraalhans. Die dekgewasse onderdruk die onkruid voor dit in die laat winter wil begin groei. Die onkruid kry nie kans om te ontwikkel nie, die dekgewasse is te sterk.

Wanneer ons ‘n mengsel van dekgewasse plant, wat grane, peulgewasse en radys in het, het ons gesien dat ons die beste onkruid onderdrukking kry. Die breë blare in die mengsel oorskadu die grond baie goed, wat onkruid ontkieming onderdruk. Die dekgewasse moet nie voor einde September doodgespuit word nie, want indien die dekgewasse nog nie groot gegroei is nie, kry jy swak onderdrukking van onkruid.

Die grane in die mengsel vorm baie materiaal, die peulgewasse gee stikstof, en die radys deurlug die grond deur ‘n dik wortel te vorm wat dan vrot en ‘n gat in die grond maak. Wanneer die dekgewasse begin Oktober doodgespuit word, kompeteer dit nie met die wingerd nie. Dit is nie ‘n ekstra spuit nie, omdat jy nie na die winter die eerste onkruidspuit spuit nie.

By boere waar ons nou al vir 2 jaar dekgewasse op die bankie geplant het, het lewe in die gronde verbeter en op sekere blokke het erdwurms selfs teruggekeer. Ons kon ook in sekere gevalle, met die regte grondtoetse, die bemesting afwaarts aanpas na die 2de jaar van dekgewasse.

Voor ons bemesting afwaarts kan aanpas, moet ons eers die koolstof in die gronde verhoog. Wanneer wingerde sukkel, sal die dekgewasse ook waarskynlik sukkel. Ons het in 2019 gesien, waar die dekgewasse in die rye geplant is waar hulle hoendermis gegooi het, het die dekgewasse beter gegroei. In hierdie gevalle beveel ek hoendermis aan voor plant, of bemesting saam met plant, vir die dekgewasse. Hier is 'n video van dit:

Die effek van hoendermis op dekgewasse


Die koste vir die plant van dekgewasse op die bankie beloop ongeveer R1200/ha wat die saad, trekker, drywer en planter insluit.

1 Roundup spuit kos ong R500/ha vir die chemie en trekker loopkoste. Indien jy net 2 spuite kan bespaar deur die jaar, betaal dit alleen amper die plantkoste van dekgewasse.

Verder is dit nog die beste manier wat ek gesien het om hardnekkige onkruide soos vaalskraalhans te beheer.

(Hier is n voorbeeld van dit.)


Groete en sterkte


Stoney

281 views
bottom of page