top of page
Search

Hoe om dekgewasse dood te maak?

Jy plant dekgewasse, maar sien nog nie die resultate nie en voel dis nie die moeite werd nie.

Die redes hoekom dekgewasse nie werk nie is:

  1. ‘n monokultuur van ‘n dekgewas word geplant en nie ‘n mengsel van dekgewasse nie

  2. die dekgewasse word geplant deur die grond te ploeg

  3. die dekgewas word te vroeg en verkeerd getermineer, deur bv in die grond in te ploeg, of dit vir voer te sny en te baal.

Hoe om dekgewasse dood te maak?

Die beste manier om die dekgewasse te termineer en plat te kry vir ‘n bedekking op grond, is wanneer diere in hoë digtheid dit plattrap. Dit is die beste manier, want dis hoe die Savanna duisende jare vrugbaar bly met die groot troppe wildebeeste. Diere word in baie hoë digtheid, vir ‘n kort tydjie, op die dekgewasse gesit.

Indien jou doel is om die dekgewasse plat te kry, moet jy kyk na ongeveer 20-50 kg lewendige gewig per vierkante meter, elke 24 uur. Skuif die diere daagliks deur gebruik te maak van skokdrade. ‘n Bees van 400 kg het bv net 10 vierkante meter wat hy vir daardie dag bewei. Die diere eet ongeveer ‘n derde van die dekgewasse in lengte, en trap die orige dekgewasse plat sodat dit die grond bedek. Die diere se mis en urine bespoedig die proses van grondgesondheid. Diere se vreetaksie verhoog die hoeveelheid koolstof wat die dekgewasse in die grond in pomp en jy kry ook 'n inkomste van die diere.

Ultra hoë drukbeweiding van beeste

Platgetrapte dekgewasse


In wingerde en boorde, waar diere nie moontlik is nie, is die beste alternatief om dit plat te rol met n krimper roller.


Die krimper roller knak die dekgewasse elke 10 cm en rol dit so plat.


Waar bv ‘n trekkerband gebruik word om die dekgewasse plat te trek, knak die dekgewasse net by hul basis, en staan weer regop.


Krimper roller in aksie


Jay Fuhrer (USDA,VSA) het navorsing gedoen waar dekgewasse deur diere platgetrap word teenoor dit met 'n krimper roller plat te rol. Daar waar die diere die dekgewasse platgetrap het, het die grondgesondheid baie vinniger toegeneem. Volgens die grondontledings was die fosfate, kaliums en koolstof hoër waar die diere dit platgetrap het.

Indien jy dit moet platrol, soos in wingerde en boorde, kan jy dieremis op die platgerolde dekgewasse gooi, om die proses na te boots. Dit sal nie alles naboots nie, maar dis die beste wat ons kan doen.

‘n Ander manier wat gebruik word om die dekgewasse dood te maak, is om dit met 'n bossiekapper af te slaan. Die manier is minder effektief as platrol, omdat die materiaal baie fyngeslaan word. Onkruidonderdrukking is swakker waar dekgewasse met ‘n bossiekapper platgeslaan is in vergelyking met dekgewasse wat platgerol is. Die bedekking was ook minder en het vinniger verweer.

In ‘n vorige skrywe het ek verwys na wanneer ons bv koring oes. Met oes verwyder ons ‘n derde van die koolstof (wat met fotosintese tydens die groeiproses van die koringplant geproduseer is) met die saad. ‘n Derde van die koolstof is in die strooi, en die laaste derde is in die wortels. Wanneer ons die dekgewasse se bogrondse groei verwyder deur dit bv te baal, verwyder ons baie van die koolstof, en gaan grondgesondheid baie langer vat om te verbeter. Die bedekking van bogrond skep ‘n omgewing vir mikrobes om in te floreer. Bedekte gronde raak vinniger gesond as waar dit kaal lê.

Die inploeg van dekgewasse is die verkeerdste manier om dekgewasse te termineer. Die grondgesondheid wat jy opgebou het met die dekgewasse, word weer deur die ploegaksie verwyder.

Wanneer ‘n groen dekgewas in die grond inploeg word, kry jy ‘n onmiddelike groot vrystelling van stikstof. Dié tegniek word deur mielieboere gebruik. Die mielies groei goed, maar grondgesondheid ly daaronder.

Dit is beter om die dekgewasse bo-op die grond te laat plattrap met diere of dit plat te rol. Die bedekking van jou grond is die geheim.

Die plattrap met diere en platrol met n krimperroller gee die beste bedekking vir voghouvermoë (deur verdamping te verminder), onkruidonderdrukking en die verhoging van grondgesondheid.


Groete en sterkte


Stoney




45 views
bottom of page