top of page
Search

Het dekgewasse bemesting nodig?

Plante benodig water en minerale uit die grond vir groei en produksie.

Die minerale wat die plant benodig, word bepaal deur ‘n grondontleding te laat doen.

Grondontledings wys die minerale in die grond wat beskikbaar is vir plante.

Het jy geweet dat ‘n grondontleding nié die totale hoeveelheid minerale in die grond wys nie?

Die totale hoeveelheid minerale in die grond is baie meer as dié wat op ‘n grondontleding is (sien tabel 1.3).

In die onderstaande tabel is daar in droë areas ongeveer 45000 kg Kalium per ha, maar net 250 kg Kalium per ha is plant-beskikbaar. Jy benodig so 100 - 250kg beskikbare Kalium vir die meeste gewasse.

Die minerale is nie beskikbaar vir plante nie en in die bedryf verwys ons daarna dat die minerale vasgelê of gebind is.

Buz Kloot: “Minder as 5% van die totale minerale is plant-beskikbaar in verweerde sisteme.”


Biologie en mikrobes in die grond maak die vasgelegde minerale plant-beskikbaar, net soos die mikrobes in ons maag die opname van ons kos verhoog.

Min minerale is huidiglik beskikbaar in ons gronde en ons moet bemes om produksie te kry. Organiese bemestingstowwe soos kompos ens. asook kunsmis kan gebruik word om die tekorte aan te vul.

Die probleem met kunsmis is: dit vernietig die biologie in die grond.

Het jy geweet dat kunsmis een van die hoofredes is hoekom erdwurms en mikrobes verdwyn?

Omdat die kunsmis met verloop van tyd die biologie vernietig, raak minder minerale beskikbaar en moet ons nog meer kunsmis gee. So neem die effektiwiteit van kunsmis oor tyd ook af.

Die enigste manier om die afname in effektiwiteit van kunsmis om te keer, is om die biologie in gronde te verhoog.

Verhoog organiese koolstof in die grond, en biologie verbeter.

Hoe beter die biologie raak, hoe meer minerale raak plant-beskikbaar, en hoe minder kan ons bemes.

Grondgesondheid neem vinniger toe wanneer kunsmis verminder kan word.

Bemesting in bewaringsboerdery

Navorsing wat gedoen is ivm bemesting, is op verweerde sisteme gedoen.


Is die navorsing van toepassing in bewaringsboerdery?

Foto: Dr Buz Kloot


Die navorsing wat gedoen is op herlewingsisteme wys egter die volgende:

Foto: Dr Buz Kloot

400kg Kalium per hektaar het nie die plant-beskikbare Kalium vlakke in gesonde grond verhoog nie.


Kunsmis in gesonde gronde verhoog dus nie die beskikbare hoeveelheid minerale in die grond nie.

Bemesting vir dekgewasse

In tafeldruifblokke, wat hoofsaaklik oorbemes word, het ek waargeneem dat geen bemesting nodig is vir dekgewasse nie. Die dekgewasse groei hier baie goed sonder enige ekstra bemesting.

Dekgewasse gebruik ongeveer 40-80 kg N, 6-15 kg P en 8-20kg K om goed te kan groei.

Wanneer gronde nie baie vrugbaar is nie, kan daar volgens die bo-staande norme bemes word.


Kyk die video as 'n voorbeeld:


Video van dekgewasse in arm gronde teenoor bemesting


Om te bepaal of jy bemesting nodig het, is die beste om ‘n Haney toets te laat doen (by Willie Pretorius/ Sheila Storey van Soil Health Clinic/ Nemlab, Wellington). Google hulle indien jy hulle nie ken nie.

‘n Haney toets toets grondgesondheid asook die beskikbare minerale in die grond. Met dié toets kan jy jaarliks jou grondgesondheid meet en bepaal of dit toeneem, afneem, of stagneer.

Voor jy kunsmis kan verminder, moet jy eers grondgesondheid verbeter, andersins gaan produksie daaronder ly. Meet jaarliks met Haney toetse en verminder kunsmis geleidelik.

Die oplossing

Dekgewasse is die beste en mees koste effektiewe manier om koolstof in die grond te verbeter. Dekgewasse verskaf bogrondse materiaal, maar skei ook suikers by hul wortels uit, wat koolstof in die gronde verhoog.

Dit gebeur vinniger wanneer jy mengsels van dekgewasse, met ‘n no till planter, in mulch plant.

Wanneer jy dekgewasse moet bemes weens onvrugbare gronde, is die bemesting nie verlore nie. Nadat dekgewasse verweer het en humus gevorm het, keer die minerale in die dekgewasse terug na die grond.

Die doodspuit van dekgewasse

Glifosaat bind die minerale in die dekgewasse en die minerale raak minder beskikbaar vir die grond. Die beste is om te kyk om glifosaat versigtig te gebruik en te kyk of jy die dekgewasse nie eerder kan platrol nie. Hiervoor werk ‘n krimper roller baie goed. Drukbeweiding met diere werk beter om dekgewasse dood te kry, indien dit moontlik is in jou sisteem. Dekgewasse wat met glifosaat doodgespuit is, vorm nogsteeds humus in die grond na afbraak.

Wanneer jy wel kunsmis gee, gee dit saam met ‘n organiese suur (humien, fulvien en aminosure).

Die rede hoekom kunsmis so gevaarlik vir grondgesondheid en mikrobes is, is omdat dit baie soute bevat. Die soute word tot ‘n mate gebuffer met organiese sure. Dit stimuleer die grondmikrobes wat jou opname van kunsmis verbeter.

Organiese sure word baie effektief gebruik in huidige sisteme.

Die wortels van dekgewasse verskaf groot hoeveelhede organiese sure. Mengsels van dekgewasse het verskillende wortelstelsels, en verskaf ‘n huis vir ‘n groter diversiteit van mikrobes. So is jou kans ook groter dat daar goeie mikrobes is wat slegte mikrobes onderdruk.

Groete en sterkte


Stoney

80 views

تعليقات


bottom of page