Kweek wat groei in die wortelsone van wingerde en boorde, kompeteer met die wingerd, veral gedurende die somermaande, wanneer kweek die meeste aktief groei. Dit gebruik die voeding en water, wat veroorsaak dat daar minder beskikbaar is vir die wingerd.
Kweek hou van verdigte, self souterige, armer gronde. Dit is ook lief vir hoë magnesium/lae kalsium gronde.
Die doel van kweek/gras in die natuur is om gronde te bedek. Grond in sy natuurlike toestand wil nie braak lê nie, en grond sal homself bedek indien voldoende vog beskikbaar is. As gewasboere sien ons dit as onkruid, maar in die natuur is die onkruide pionierplante, wat die gronde verbeter in vrugbaarheid en opheffing van verdigtings ens.
Gras-spesies verskaf groot hoeveelhede koolstof in grond deurdat hul wortels groot hoeveelhede koolstof-verbindings uitskei. Trek bv. 'n graspol uit en sien hoe baie wortels daar is. As jy byvoorbeeld 'n grasperk van 'n paar jaar verwyder, is die gras se gronde baie donkerder as wat die grond is wat langs die gras geleë is, waar nie gras was nie. Donkerder gronde is 'n teken van hoër vlakke van koolstof.
Maar vir gras-spesies om die koolstof in die grond te sit, veroorsaak dit baie kompetisie vir omliggende plante, en as gewas-produsente soek ons dit nie.
In gronde met lae voeding (wat geskik is vir kweek), het 'n wingerdstok minder toeganklikheid tot voedingstowwe. Daar is minder mikrobes in die grond, wat weer veroorsaak dat die opname van die (minder) voeding, ook minder effektief is. As daar nou nog 'n gras soos kweek groei, gebruik dit nog meer van die reeds beperkte voeding.
Dis waarom ons grasse soos kweek beheer. Dit veroorsaak kompetisie teenoor die wingerdstok, veral gedurende die somermaande, alhoewel die kweek die koolstof verhoog.
Om die probleem oor die langtermyn aan te spreek, moet kompetisie tydens die somermaande in wingerd beheer word, en moet organiese materiaal toegedien word om die grond se vrugbaarheid te verhoog.
Maniere van organiese materiaal toedien sluit in:
· Dekgewasse tydens die wintermaande wanneer kompetisie nie 'n probleem is nie.
· Pak van kaf en ander vorme van organiese materiaal
· Woodchips en opgekerfde snoeilote
· Kompos
· Organiese vorme van bemesting soos dieremis, gekomposteerde hoendermispille (Atlantic) ens.
Groete en sterkte
Stoney
Comments